2007-05-15 : Man in hof oor skote op rowers

http://www.dieburger.com <br>dbmening@dieburger.com

Moderators: GenMod, AfrMod

2007-05-15 : Man in hof oor skote op rowers

Postby GOSA » Fri, 2007-05-18 12:16

http://www.dieburger.com/Stories/News/14.0.2599013042.aspx

Man in hof oor skote op rowers
LLEWELLYN PRINCE en CARRYN-ANN NEL 14/05/2007 08:58:39 PM - (SA)

KAAPSTAD. ­ "Hy het dit vir my en vir sy gesin gedoen. Ek kon die angs in
sy oë sien soos hy my beduie het om weg te beweeg. Dit is nie regverdig dat
hy nou vir 'n moordenaar uitgekryt word nie."

Só het mev. Michelle Tissong (34) gister emosioneel gesê by die
Wynberg-landdroshof waar haar man, mnr. Aldred Morton Tissong (39), van
moord aangekla is nadat hy Vrydagoggend na bewering twee vermeende rowers
in sy huis geskiet het.


Tissong, 'n pa van twee, is gister van moord en poging tot moord aangekla
ná mnr. Kenneth Samuels (36) tydens die voorval doodgeskiet en sy onbekende
makker (37) kritiek gewond is.


Die mans het volgens konst. Siphokazi Mawisa, polisiewoordvoerder, glo met
'n vuurwapen by Tissong se huis in Derde Laan, Lotusrivier ingebars en hom
en sy vrou daarmee gedreig.


'n Struweling het tussen die mans en Tissong ontstaan, waartydens die skote
afgevuur is. Sy het gesê Tissong het ná die skietery uitgevind dat dit sy
eie gelisensieerde vuurwapen was wat hy in Desember verlede jaar as gesteel
by die polisie aangemeld het.


Mev. Tissong, wat ten tyde van die voorval saam met haar man was, het
gister gesê: "Ons is bang, dit gaan nie goed nie. My man se gesondheid is
nie goed nie. Hy is moeg en getraumatiseerd. Ek sal vanaand ons pastoor
laat kom om met hom te praat."


Tissong, 'n paneelklopper, is gister op borgtog van R1 000 vrygelaat nadat
hy met die boek The Transformer in die beskuldigdebank gestaan het.


Die hof het gehoor die twee mans het na die beskuldigde se huis gegaan,
vermoedelik om in te breek.


Tissong het geen vorige veroordelings nie. Hy het ook geen sake hangend
teen hom nie.


Intussen het me. Judy Bassingthwaighte, nasionale direkteur van Wapenvrye
Suid-Afrika, in reaksie op dié voorval gesê 'n vuurwapen kompliseer sake
gewoonlik verder. "Dan is daar ook die emosionele lyding waardeur mnr.
Tissong nou moet gaan omdat hy vermoedelik 'n lewe geneem het. Dit is
gevaarlik om 'n vuurwapen te besit, en ons moet onsself afvra wat dit werd is."


Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudie, het
gesê die feit dat 'n moorddossier teen Tissong geopen is, beteken nie dat
hy aangekla gaan word van moord nie.


"Die direkteur van openbare vervolgings (DOV) moet besluit of hy wel van
moord aangekla gaan word. Daar sal ingevolge die strafproseswet gekyk moet
word of die ou se optrede regverdig was, of hy uit selfverdediging opgetree
het en of dit nie 'n ongeluk was nie.


Die saak moet eers volledig ondersoek word. As die DOV egter bevind dat die
lewe van die man of sy vrou nie bedreig is nie, kan hy van moord aangekla
word. Die beste is dat die beskuldigde so gou as moontlik vir hom 'n
prokureur kry sodat hy nie iets sal sê wat later teen hom gebruik kan word
nie."


Die saak is vir verdere ondersoek tot 13 Augustus uitgestel.
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

BRIEF, 17 Mei: Boodskap wat misdadigers kry

Postby GOSA » Fri, 2007-05-18 12:18

BRIEF, 17 Mei: Boodskap wat misdadigers kry
17/05/2007 09:33:56 AM - (SA)


Ek verwys na die berig "Man in hof oor moord ná skote op rowers" (DB, 15/5).


Weer eens is dit duidelik dat die misdadigers in die land beter behandel
word as die wetsgehoorsame burgers.


Dit blyk dat die rowers by die Tissongs se huis ingebars het - gewapen!
Mnr. Aldred Tissong het bloot sy familie beskerm. Dit is so dat mnr.
Tissong nog nie skuldig bevind is nie, maar ná die trauma van die gewapende
inbraak word hy nou voor die hof gedaag op aanklagte van moord en poging
tot moord.


My vraag is nou: Sou die Tissongs die aanval oorleef het indien mnr.
Tissong nie sy familie met sy lewe beskerm het nie?


Kry die misdadigers nie keer op keer die boodskap dat hulle kan doen wat
hulle wil, en ons moet omrol en lê sodat hulle maar kan steel, verkrag en
moor nie?


Sterkte aan mnr. Tissong en sy gesin indien sy enigste beweegrede was om sy
gesin te beskerm. Ons moet vertroue in ons regstelsel hê dat geregtigheid
sal geskied.


TIENKERBELL
Kaapstad
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

BRIEF, 17 Mei: Te gevaarlik vir rowers

Postby GOSA » Fri, 2007-05-18 12:19

BRIEF, 17 Mei: Te gevaarlik vir rowers
17/05/2007 09:33:23 AM - (SA)


Ek stem volkome saam met me. Judy Bassingthwaighte (DB, 15/5). As mnr.
Aldred Tissong nie 'n vuurwapen gehad het nie, sou hy en sy gesin dalk dood
gewees het, maar hy sou ten minste nie al die trauma ervaar het nie.


Omdat hy sy familie beskerm het, is hy vir die naweek opgesluit - en dit is
reg so, want gewapende rowers binne jou huis het net soveel reg om te lewe
as enigiemand anders.


Voorvalle soos hierdie een is heeltemal te gevaarlik vir rowers, en ons
moet saam met Wapenvrye Suid-Afrika werk om hierdie sinnelose dood van
misdadigers te verhoed.


WOUTER DE WAAL
Bellville
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

BRIEF, 18 Mei: Hoop dis tong in kies

Postby GOSA » Fri, 2007-05-18 12:21

BRIEF, 18 Mei: Hoop dis tong in kies
18/05/2007 10:53:42 AM - (SA)

Ek hoop mnr. Wouter de Waal van Bellville se brief “Te gevaarlik vir rowers” (Brieweblad, 17/5) is geskryf met sy tong in die kies of dat hy sarkasties was, want geen regdenkende mens kan so ’n brief skryf nie.

Dis verregaande om op te kom vir rowers wat jou private eiendom betree. Dis net so belaglik dat mnr. Aldred Tissong vir die naweek opgesluit was, op borgtog vrygelaat is en in die hof moet verskyn omdat hy sy eiendom en gesin beskerm het.

LINIE LÜCKHOFF
Durbanville
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

BRIEF, 18 Mei: Dis miskenning van regte

Postby GOSA » Fri, 2007-05-18 12:22

BRIEF, 18 Mei: Dis miskenning van regte
18/05/2007 10:56:05 AM - (SA)

Ek verwys na die berig “Man in hof ná skote op rowers” (DB, 15/5).

Aldred Tissong het die boewe wat sy huis binnegedring het, aangevat om sy familie te beskerm. Dit is tog sekerlik elke man se plig. Hy is ’n persoon met ’n skoon rekord. Nou word hy aangekla van moord en poging tot moord.

Watter absolute bespotting maak dit nie van ’n man se reg op lewe en die beskerming van sy eie familie nie. Moes hy dan stilgestaan het en toegelaat het dat sy familie vermoor word?

Dan wil me. Bassingthwaighte van Wapenvrye Suid-Afrika ook nog ’n vrot eiertjie hieroor lê. Sy kan en wil net nie haar onsinnige standpunt laat vaar dat die wegneem van wetsgehoorsame mense se wapens Suid-Afrika ’n veiliger plek sal maak nie. Haar siening toon duidelik dat sy glad nie die erns van die misdaadprobleem in Suid-Afrika verstaan nie.

Die feit dat sy in haar kommentaar geen simpatie toon met die gevaar waarin Tissong en sy familie verkeer het nie, wys dat al wat vir haar belangrik is, is dat alle wetsgehoorsame mense van hul wapens ontneem moet word. Wat beteken dat hulle maklike prooi vir gewetenlose boewe sal wees.

Ek verwerp haar pogings met die minagting wat dit verdien.

Dat daar ’n geregtelike ondersoek na so ’n geval moet plaasvind, aanvaar ek. Maar om ’n man wat slegs sy familie (nogal in sy eie huis) wou beskerm, te arresteer en aan te kla soos ’n misdadiger, is ’n miskenning van sy menseregte. Tissong verdien aanprysing, nie vervolging nie.

Wie beskerm ons regering? Wetsgehoorsame mense of gewetenlose boewe?

john lourens
Simonstad
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

BRIEF, 18 Mei: Erns met misdaad

Postby GOSA » Fri, 2007-05-18 12:22

BRIEF, 18 Mei: Erns met misdaad
18/05/2007 11:00:44 AM - (SA)

Ek verwys na twee berigte in Die Burger van 15 Mei.

Op die voorblad lui die opskrif “Man in hof oor moord ná skote op rowers”. Dit handel oor ’n man (in Suid-Afrika) wat homself in sy eie huis verdedig tydens ’n aanval deur twee rowers, maar dan van moord aangekla en op borgtog van R1 000 vrygelaat word.

Op bl. 8 lui ’n opskrif “Saoedi’s onthoof man oor dagga”. Dit handel oor ’n smokkelaar (in Saoedi-Arabië) wat onthoof word weens dwelmhandel met dagga.

Raai in watter land is dit die regering se erns om misdaad hok te slaan?

lourens venter
Pearly Beach
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Postby GOSA » Fri, 2007-06-08 07:21

BRIEF, 21 Mei: 'n Lawwe standpunt
21/05/2007 08:55:43 AM - (SA)

Ek rig hierdie brief aan me. Judy ­Bassingthwaighte van Wapenvrye Suid-Afrika.

Me. Bassingthwaighte, ek is jammer. Ek het probeer om Wapenvrye Suid-Afrika se standpunt te ondersteun (Brieweblad, 17/5).

Die mense sê egter ek is laf. Dit lyk my hulle kan wél vir hulself dink.

My werk hier is klaar.

Wouter de Waal
Bellville
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

2007-05-29 : Brief : Slegs dossier word geopen

Postby GOSA » Fri, 2007-06-08 08:44

http://www.dieburger.com/Stories/Opinion/Letters/14.0.2652694214.aspx


BRIEF, 29 Mei: Slegs dossier word geopen
29/05/2007 09:39:06 AM - (SA)


Die staat en polisie vra dat die gemeenskap hulle help met
misdaadbestryding. Daar bestaan 'n sterk wantroue jeens die polisie wat nie
altyd geregverdig is nie en uit die weg geruim kan word as die polisie die
publiek bewapen met kennis rakende hul magte, soos byvoorbeeld uiteengesit
in art. 42 (magte van arrestasie) en art. 49 (gebruik van nodige geweld met
arrestasie) van die Strafproseswet.


Daar behoort sinvol op kritiek van die gemeenskap geantwoord te word.


'n Voorbeeld is die optrede teen mnr. Tissong. Luidens koerantberigte wil
dit voorkom asof dit 'n bona fide geval van selfverdediging (noodweer) was.
Nou wil die publiek weet waarom hy toegesluit is en borgtog moes betaal om
vrygelaat te word. Daar kan wel 'n goeie rede voor wees. 'n Verduideliking
sal beslis help om vertroue by die publiek te herstel. Dit is immers
duidelik dat daar geglo word dat indien jy jouself verdedig, jy toegesluit
en van moord aangekla word. Hierdie gevaarlike persepsie moet uit die weg
geruim word.


Jy word nie van moord aangekla nie. Daar word in so 'n geval altyd 'n
moorddossier geopen. Verklarings word geneem en die direkteur van openbare
vervolging besluit of daar 'n vervolging moet wees. In 'n bona fide geval
word die dossier afgesluit. Die diskresie om te vervolg word nie aan die
polisie oorgelaat nie. Die gemeenskap moet verstaan dat dit noodsaaklik is
om ongerymdhede te voorkom.


c.j. oosthuizen
Durbanville
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Postby GOSA » Fri, 2007-06-08 08:48

http://www.dieburger.com/Stories/Opinio ... 54888.aspx


BRIEF, 30 Mei: Dié arrestasies onnodig
30/05/2007 01:14:03 PM - (SA)


Hoewel Zelda Jongbloed die angel van haar artikel (DB, 28/5) uithaal met
"daar moet so gou moontlik klarigheid kom oor die regverdiging al dan nie
vir wat daardie nag in die (Tissong-)huis plaasgevind het", is die trant
van die artikel idealisties omtrent ons regstaat.


Jongbloed fokus slegs op die Tissong-geval, waar dit inderdaad waar is dat
ons nog nie die ander kant van die storie het nie. Die gramskap geopenbaar
in Brieweblad het egter as agtergrond 'n hele reeks gevalle (die jongste 'n
bejaarde egpaar) waar inbrekers wat in die proses geskiet/gewond word, as
die verontregte voorgehou word deur die summiere arrestasie van die
huisbewoner/prooi/verdediger.


Jongbloed sien liewer dat "tientalle" mense geboei en aangekla word, as dat
een skuldige wegkom met moord onder die dekmantel van selfverdediging. Geen
beskaafde mens sal die beginsel teenstaan dat die saak ondersoek moet word
nie. Wat het egter van diskresie in die regspleging geword? (En totdat daar
'n 24-uur-hof vir sulke gevalle beskikbaar is, moet die argument nie
gebruik word dat slegs 'n landdros diskresie mag gebruik nie.)


Is dit werklik nodig om iemand wat 'n vaste adres het, geen misdaadrekord
het nie en boonop getraumatiseer is, summier in hegtenis te neem? Daar
behoort baie diskresionêre opsies te wees. Afhangend van wat die
polisie/speurders op die toneel aantref, kan die "beskuldigde" gelas word
om beskikbaar te bly om op 'n spesifieke tyd in 'n hof te verskyn. Die hof
kan beslis of aanhouding, borgtog of net 'n bevel om later, nadat die
openbare vervolger besluit het of die klag gehandhaaf moet word, weer te
verskyn.


Een baie belangrike aspek wat in hierdie debat veels te min na vore kom, is
die geldelike implikasies daarvan om krimineel aangekla te word. Watter
kans het 'n bejaarde egpaar wat in 'n beskeie huisie woon om geld vir die
astronomiese verdedigingskoste te kry om hulself te verdedig teen die staat
se hulpbronne?


Solank die regstelsel "kapasiteit"-probleme het, sal daar iets ingrypend
gedoen moet word om hierdie situasie te ontlont.


Of dit, of wetsgehoorsame mense gaan in die versoeking kom om
regsverydeling te pleeg deur seker te maak dat hulle die "regte" storie
opdis - en dan is dit nie net misdadigers wat ons land 'n
skop-skiet-en-donder-land gaan maak nie.


piet erasmus
Vishoek
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Postby GOSA » Fri, 2007-06-08 08:48

http://www.dieburger.com/Stories/Opinion/Letters/14.0.2658854952.aspx

BRIEF, 30 Mei: Bemagtig die polisie
30/05/2007 01:13:28 PM - (SA)


In haar artikel (DB, 25/5) meld Zelda Jongbloed dat sy nie in 'n land van
skop, skiet en donder wil woon nie. En dat die reg sy volle beloop moet
neem met die Tissong-moordsaak.


Die werklikheid is dat ons reeds in so 'n land woon, regstaat of te nie,
maar die skop, skiet en donder kom net van een kant. Weerlose, ou en selfs
sieklike mense word byna daagliks, en veral in die nagtelike ure, wreed in
hul huise oorrompel met duidelike voorbedagte rade. Die dade self en die
wreedaardigheid waarmee dit plaasvind, skreeu ten hemele.


Selfverdediging onder sulke omstandighede is in enige vrye, demokratiese
land 'n natuurlike verworwe reg wat deur die staat gewaarborg en
gerespekteer moet word. Slegs in uiters verdagte omstandighede behoort die
persoon wat homself verdedig het, die vernederende polisie-optrede deur te
maak wat mnr. Tissong moes deurmaak.


Waar is dan in hierdie geval die redelikheid en ordentlikheid in
regspleging en waar is die prima facie getuienis (of dan net die sterk
vermoede) dat mnr. Tissong willens en wetens en met voorbedagte rade 'n
moord gepleeg het en nie uit selfverdediging opgetree het nie?


Om 'n einde te bring aan hierdie vernederende optrede teenoor
wetsgehoorsame burgers, moet die regering nou eens en vir altyd verseker
dat ons elkeen se reg ingevolge art.12 van die Grondwet om vry te wees van
alle vorme van geweld, eerbiedig en beskerm word.


Hy moet ophou om sy verantwoordelikheid in hierdie verband op
gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte, private sekerheidsmaatskappye,
ensovoorts af te skuif.


Die regering moet sy huis in orde kry met die SAPD, voldoende en bekwame
amptenare aanstel en hulle behoorlik toerus met vreeslose optredingsmagte
wat die euwels uit ons samelewing kan verwyder.


Die volk sal hom sekerlik daarin ondersteun. Daarsonder gaan me. Jongbloed
sekerlik nog baie skop, skiet en donder in hierdie land moet verduur.


René H. Truter
Bellville
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa


Return to Die Burger

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron