2010-12-23: Bevelvoerder kry vinnig 'n wapenlisensie

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2010-12-23: Bevelvoerder kry vinnig 'n wapenlisensie

Postby GOSA » Thu, 2010-12-23 13:52

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/B ... e-20101222


Bevelvoerder kry vinnig 'n wapenlisensie
2010-12-23 10:15
Hilda Fourie


Die stasiebevelvoerder van die Springs-polisiekantoor het binne
minder as twee maande 'n bevoegdheidsertifikaat en lisensie vir
sy persoonlike vuurwapen ontvang.


Brig. Jeshop Shabangu het op 13 Julie vanjaar by die
Springs-polisiekantoor om 'n bevoegdheidsertifikaat en 'n
vuurwapenlisensie aansoek gedoen - hoewel hy in Alberton bly.


Luidens die Vuurwapenwet moet 'n persoon aansoek doen by 'n
vuurwapen-registrasiesentrum in die omgewing waar hy woon.


Shabangu se bevoegdheid­sertifikaat is op 16 Augustus, 'n maand
en drie dae nadat hy daarvoor aansoek gedoen het, goedgekeur. Sy
aansoek om 'n vuurwapenlisensie is drie weke en twee dae later op
8 September goedgekeur.


Shabangu het gister gesê hy is omgekrap omdat dit bevraagteken
word dat hy sy bevoegdheidsertifikaat en vuurwapenlisensie so
vinnig gekry het.


"Ek is 'n Suid-Afrikaanse burger wat om 'n bevoegdheidsertifikaat
en vuurwapenlisensie aansoek gedoen het. Dit is aan mý uitgereik.
Dit het niks daarmee te doen dat ek 'n brigadier in die polisie
is nie," het Shabangu gesê.


"Daar is stelsels gevestig om dienslewering te verbeter.


"Skuld ek iemand 'n verduideliking omdat 'n
bevoegdheidsertifikaat en 'n vuurwapenlisensie aan mý uitgereik
is?"


Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê elke
vuurwapenlisensie-aansoek moet op sy eie meriete gehanteer word.


Volgens Naidoo is dit die bevoegdheidsertifikaat wat die meeste
tyd in beslag neem wanneer 'n aansoek gehanteer word.


"In brig. Shabangu se geval is sy aansoek vinnig afgehandel omdat
hy reeds aan die vereistes vir bevoegdheid voldoen het omdat hy 'n
polisiebeampte is," het Naidoo gesê.


Tog het 'n polisiebeampte by 'n vuurwapenregistrasie-sentrum in
Gauteng gesê hulle het verskeie aansoeke van polisie­beamptes wat
al so lank as drie jaar vir goedkeuring wag.


"Dit maak nie saak of jy 'n polisielid is of nie. Jy is ook 'n
nommer," het die beampte gesê.


"?'n Polisie-opleidingsertifikaat help 'n polisielid niks nie. 'n
Polisiebeampte moet steeds na 'n privaat geakkrediteerde
vuurwapen-opleidingsentrum gaan.


"Jy kry nie enige bevoordeling omdat jy in die polisie is nie."


Volgens dié polisiebeampte duur dit sowat ses maande om jou
vuurwapenlisensie te kry as jou bevoegdheidsertifikaat goedgekeur
is.


Kenners was verstom oor die rekordtyd waarin Shabangu se
bevoegdheidsertifikaat en vuurwapenlisensie toegestaan is.


"Ek het nog nooit van só iets gehoor nie. Ek glo jou nie," het
mnr. Henriko Prinsloo, 'n vuurwapenlisensie-kenner, gesê.


Prinsloo sit met meer as 1 500 kliënte van wie die meeste al drie
jaar lank op 'n bevoegdheidsertifikaat wag.


Hy en Naidoo het albei gesê die vinnigste tydperk waarin ­iemand
'n bevoegdheidsertifikaat en 'n vuurwapenlisensie kan kry, is
nege maande.


"Ek het kliënte wat op plase bly en elke drie maande beroof of
besteel word. Mense wat aansoek doen om 'n vuurwapen­lisensie om
hulself te beskerm, wag jare," het Prinsloo gesê.


"Ander kliënte is al 20 jaar in die polisie of ses jaar in die
weermag en hulle word óf onbevoeg verklaar óf hul aansoeke word
afgekeur weens 'n gebrek aan motivering. Hier kom 'n polisieman
wat in die stad woon en hy kry dit binne 'n maand. Dit is
ongehoord."


Mnr. Martin Hood, 'n prokureur wat met vuurwapenlisensies werk,
het gesê vir 'n bevoegdheidsertifikaat en vuurwapenlisensie om só
vinnig uitgereik te word, "is absoluut onreëlmatig".


"Volgens die polisie se interne riglyne kan 'n aansoek nie in
minder as vier maande uitgereik word nie."
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1576
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests

cron