2014-03-05: Skoksyfers oor verlore vuurwapens

http://www.beeld.co.za<br>
Kontak Beeld deur op "Kontak ons" heel onder op die webblad te kliek.

Moderators: GenMod, AfrMod

2014-03-05: Skoksyfers oor verlore vuurwapens

Postby GOSA » Wed, 2014-03-05 09:16

http://www.beeld.com/nuus/2014-03-05-sk ... vuurwapens

Skoksyfers oor verlore vuurwapens
‘Groot bron vir misdadigers’
MARYNA LAMPRECHT Woensdag 05 Maart 2014
Kaapstad. – Die polisie het die afgelope vyf jaar meer as 10 000 vuurwapens verloor.

Dié skoksyfer is gister deur ’n afvaardiging van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die parlement bekend gemaak.

Lt.genl. Stefan Schutte, die polisie se nasionale adjunkkommissaris van hulpbronne, het in ’n voorlegging aan die parlementêre komitee oor polisie gesê 2 794 van dié wapens is teruggevind.

Dr. Johan Burger, senior navorser aan die Instituut vir Sekerheidstudie, het gesê dit is “skrikwekkend”.

“Die vraag is: Waarheen is daardie wapens en waarvoor word dit gebruik? Die enigste afleiding is dat dit in misdadigers se hande is en dat baie misdade daarmee gepleeg word.”

Burger het gesê dit is nie net die polisie wat skuldig is nie, maar ook die weermag en private veiligheidsmaatskappye.

“Tussen dié drie gewapende instellings het misdadigers ’n geweldig groot bron van wapens.”

Die getal wapens wat die polisie jaarliks verloor, het wel van 3 403 in 2008-’09 tot 834 in 2012-’13 afgeneem.

Burger het gesê dit is ’n besliste verbetering, maar die syfer is steeds skrikwekkend. “834 in een jaar is baie erg. Die polisie behoort geen wapens te verloor nie.”

Lt.genl. Gary Kruser het voor die komitee gesê tugprosedures bestaan om op te tree teen polisielede wat vuurwapens verloor.

Hy het gesê ’n strafregtelike klag word ingedien vir elke vuurwapen wat verlore raak.

Die polisie gee aandag aan die kwessie van verlore wapens en dit is waarom die getal vuurwapens wat verlore geraak het die afgelope paar jaar afgeneem het, het hy gesê.

Annelizé van Wyk, ANC-LP en voorsitter van die komitee, het teen die polisie-afvaardiging uitgevaar omdat lt.genl. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, nie by die vergadering opgedaag het nie.

“Die komitee het eers gister kennis gekry dat sy nie hier gaan wees nie. Nou hoor ons sy is oorsee. Dis onaanvaarbaar om ’n oorsese reis te reël terwyl sy weet sy moet hier wees.”
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1604
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Beeld

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 2 guests

cron